“Sê aah vir die dokter”

“I was scared of dentists and the dark” sing Vance Joy. Ék was nog nooit bang vir een van die twee dinge nie – tot onlangs. My tand begin pyn en die eerste ding wat in my kop op pop, “My tand gaan getrek word.” Eers het ek probeer om die pyn te vermy. Dit het mettertyd net erger geraak en die realiteit skop in: ek sal móét tandarts toe.

Maandag bel ek die tandarts vir ʼn afspraak en kry een gereël vir Vrydag. Hoe langer ek dit kan uitstel, hoe minder hoef ek aan die afspraak te dink. (Maak nie regtig sin nie, ek weet.) Ek bel my ma en noem die afspraak so met die verloop van die gesprek. My ma sê, “Vrydag is te laat.” Toe ek weer met haar op die foon praat het sy sommer my afspraak geskuif na die volgende dag.

My ma probeer my gerusstel dat dit glad nie so erg is nie en dat ek verniet bekommerd is. “Jy weet nie wat is tandpyn nie, veral tandpyn wat so seer is dat jy nie eers kan praat nie.” “Ja mamma,” dink ek, “maar wat as die tand getrek moet word ten spyte van die feit dat dit nie só seer is nie.” In my geestesoog sien ek reeds hoe ek tandloos op kampus moet rondstap.

Ter voorbereiding vir my afspraak google ek “How to stay calm before a dentist appointment.” Daarna was ek alles behalwe “kalm”. Dinsdag breek uiteindelik aan en ek is amper ʼn uur te vroeg vir my afspraak. Die ontvangsdame gee vir my vorms om in te vul. “Dis mos jou eerste keer hier by ons? Jy moet asseblief net vir ons die vormpies invul. Hier’s ʼn pen; kom haal maar nog een as dié een nie werk nie.” Ek neem die vorms, gaan sit op ʼn harde stoel en begin dit invul. Ek wonder altyd hoekom hulle van jou verlang om jou “huidige beroep” in te vul? Ek skryf maar net altyd net, “Student”, want dit is mos ʼn voltydse werk om ʼn student te wees, of hoe?

Die vorms is ingevul en daar is nog 35 minute oor voordat die dokter my moet sien. Ek gryp ʼn tydskrif van die hoop wat op die tafeltjie langs die stoel lê – lees ʼn interessante artikel in die Weg, “Hemel op die platteland” oor hotelle in die platteland en ek wens ek was nou veel eerder op ʼn roadtrip as om hier te sit.

Die tyd gaan verby en die tandartsassistent kom haal my vir my afspraak. Hier is dit nou, die laaste keer wat ek gesien gaan word met al my tande. Ek groet die dokter en sê sommer van die begin af dat ek baie op my senuwees is. (Net sodat hy weet.) Hy sê, “Ons gaan nou eers net kyk.” So asof dit my rustiger maak. “Ons gaan net kyk.” Mmmpf! Ek gaan sit op die stoel en saam met die stoel, sak my gemoed ook sommer. Oop gaan my mond en nader kom die dokter met sy groen handskoene. “Wat sien hy?” wonder ek. “Jy’t mooi tande,” wys hy uit. “Dankie,” mompel ek met sy vingers steeds in my mond. Mooi tande wat ek graag wil hou, ja.

Voor ek weer “aah” kon sê vir die dokter, kom die stoel op. Lang storie kort, bietjie inflammasie op die tandvleis. Niks ernstig nie. Hy gee vir my ʼn spesifieke tandepasta en ʼn paar ander dinge om te gebruik en verwys my na die mondhigiënis. En siedaar, dis verby.

Ek bel my ma na die afspraak. “Kom ons praat nie daaroor nie. Ja mamma was reg, en ek was verkeerd. Daar was niks om oor bekommerd te wees nie. Kom ons praat nie weer daaroor nie asseblief?”

Tot ‘n volgende keer.

Alles Wat Mal Is

Peter

NS. Het jy al  ‘n soortgelyke ervaring gehad? Laat weet my deur ‘n comment te los in die kommentaarboksie.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s